MARITA VAN DER VYVER BESOEK ZWARRIELAND

Marita van der Vyver - wenner van 'n Woordtrofee en Topverkoper in Prosa tydens die Stellenbosch Woordfees en met meer as 28 prosawerke wat die lig gesien het – besoek Hoërskool Zwartkop. Marita se missie en visie is eenvoudig: kinders moet aanhou (of begin) lees. Dit is juis haar rede vir die besoek aan skole. Marita woon tans in Frankryk en Hoërskool Zwartkop was een van die drie uitgesoekte skole wat deur Marita tydens haar besoek aan Suid-Afrika, besoek is. Wat ‘n plat-op-die-aarde-fenomenale vrou! Sy is self ma van drie kinders en vereenselwig haar nog steeds met die ervaringswêreld van kinders. Marita se besoek het hoop gebring, ‘n boodskap dat daar steeds ‘n plek vir Afrikaans is, al word dit so bietjie gemeng met kletsrym en hier en daar ‘n neologisme - Afrikaans bly die huis van haar hart.

Die oomblik was groot toe ons eie jeugskrywer, Almé Hugo, ‘n eksemplaar van haar eerste speurverhaal, aan Marita kon oorhandig as dankie-sê-geskenk. : Almè Hugo, ‘n gr. 9-leerder, se eerste boek, “Speurder Nina Lucky” is die jaar uitgegee deur Maskew Miller Longman Uitgewers.  

In die besonder, baie dankie aan LAPA-uitgewers wat hierdie geleentheid moontlik gemaak het. Dankie aan Marita wat so nederig en geduldig elke eksemplaar geteken het, wat nog glo dat die jeug ‘n verskil kan maak en bereid is om die taal lewendig te hou deur verandering toe te laat en dit met albei arms te omhels. Zwarries salueer haar!