MATRIKULANTE EN ONNIES HOU ZWARRIE NAAM HOOG

MATRIKULANTE EN ONNIES HOU ZWARRIE NAAM HOOG

Hoërskool Zwartkop se matrikulante van 2017 het die standaard weer behoorlik gelig met hul pragtige matriekuitslae. Dié graad 12 groep het nie net ’n 100% slaagsyfer behaal nie, maar het ook altesaam 388 onderskeidings los geskryf.

Elizma Joubert, Giovanni Joubert, Jeanine Malan, Frané Pretorius, Yanka-Marié Serfontein en Nian Vorster het elk 7 onderskeidings op hul kerfstok. Ian de Villiers, Christi Kruger, Carla Meyer en Anton Smith spog met ’n volle 8 onderskeidings elk. Johannes Conradie het 2de in Tshwane geëinding met sy uitsonderlike 9 onderskeidings en ’n gemiddeld van 95,7%.

Hierdie toppresteerders het ook elkeen ’n spesiale ere-toekenning van die skool ontvang. Hoërskool Zwartkop is vereer met ’n 7de plek onder die top 10 skole in Gauteng en behaal ook die lys van top 20 skole in Suid-Afrika.

Maar dit is nie net die leerders wat met toekennings weggestap het nie. Drie Zwarrie-onnies het ook elkeen ’n spesiale toekenning van die Gauteng Departement van Onderwys vir top matriekuitslae in die Tshwane Suid distrik in hul vakgebied ontvang. Mnr Pieter Alberts, Vernon Rowles en Christiaan Edeling is met ’n toekenning vir onderskeidelik Dramatiese Kuns, Siviele Tegnologie en Meganiese Tegnologie vereer.

Ons is baie trots op hierdie Zwarrie-leerders en onderwysers. Ons sien baie uit na wat 2018 vir Hoërskool Zwartkop op akademiese gebied inhou.