PUK PRESTIGE SPORTREEKS 2017

PUK PRESTIGE SPORTREEKS 2017

Hierdie sportreeks bestaan uit 16 skole van verskillende provinsies wat teen mekaar deelneem in 8 sporte. Vier skole per poel kompeteer teen mekaar in poelwedstryde en daarna word daar oorkruis kragte gemeet in ʼn kwart- en semifinaal, wat dan die wedstryde vir die finaal bepaal. Wedstryde van die finaal, waar daar om medaljes meegeding word, vind by die Noordwes-Universiteit te Potchefstroom plaas. Geen van die 16 skole in die reeks kon onderskat word nie, daarom het vanjaar se uitspeelwedstryde weereens heelwat opwinding en spanning besorg.

Hoërskool Zwartkop slaag vanjaar daarin om vir die 5de opeenvolgende jaar die trofee vir die Kleinsporte in te palm. Hierdie Kleinsport-wenners word bepaal deur die somtotaal van die uitslag van die volgende sporte: Skaak, Tennis, Landloop, Seunshokkie en Gholf. Elke Zwarrie het baie hard gewerk om met hierdie gesogte trofee te kan spog. 

Die Rugby-, Netbal- en Hokkie uitslae word bygereken by die Kleinsporte om die algehele wenner van die PUK Prestige Sportreeks te bepaal. Die 16 skole word in ʼn ranglys volgens die finale uitslae van 1-16 geplaas.

Hoërskool Zwartkop eindig in 2017 algeheel in die tweede plek. Hierdie prestasie is die beloning vir baie harde werk, deursettingsvermoë en groot Genade.

Mnr. Fielies Coetzee, Sporthoof by Hoërskool Zwartkop, het met trots die trofee in ontvangs geneem van prof. Fika, rektor van die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.