Zwarrie-Boogskiet
Boogskiet is ‘n wonderlike buitemuurse aktiwiteit vir Zwarrie-leerders en hul ouers. Dit akkommodeer albei geslagte en sluit selfs kinders met leerprobleme en fisieke ongeskiktheid in. Dit het basiese en gevestigde veiligheidsreëls en die toerusting is gestandardiseerd en maklik om te gebruik.
Zwarrie-ouers word aangespoor om saam deel te neem. Dit is ‘n sport wat ook tuis (onder ouertoesig) beoefen kan word en waarin enige leerder kan streef om op provinsiale-, nasionale- en internasionale vlakke te presteer.
Centurion Boogskiet Klub (CBK) is Hoërskool Zwartkop se verteenwoordiger van SANAA en NGAA en skuts oefen veilig op hul gronde by Lewende Woord Kerk, Centurion. Skuts stap op Maandae- tot Donderdaemiddae na skool saam na die Kerk vanaf die Riverview Straat hek.
Leerlinge, of skuts, kan vir Hoërskool Zwartkop in ‘n skoolspan, óf as individu deelneem. Hoërskool Zwartkop gee meriete-erkenning vir oefeninge bygewoon en prestasies behaal.
CBK verskaf al die toerusting (boë en pyle, ens.) aan die skuts. Geen toerusting word benodig om te begin nie. Indien ‘n skut verder wil vorder, gaan hy/sy bykomend tuis moet oefen en dan kan toerusting deur CBK, vir kompeterende pryse, aangekoop word.
Verskillende lesse en kompetisies word op ‘n gereelde basis gehou en bygewoon. Skuts kan vorder tot op Noord-Gauteng en Protea-vlak. Inskryfgelde, affiliasie-gelde en ‘n maandelikse fooi is aan CBK betaalbaar vir die onderhoud van die boë, pyle, teikens en terrein. Alle lesse word deur opgeleide/gekeurde instrukteurs hanteer.
Gedurende die nege jaar wat CBK reeds by boogskiet betrokke is, sien hul hoe leerders emosioneel groei, selfstandig word en dat die woelige kind baat vind by die gestruktureerdheid van die sport.
Zwarries het hulself al ingeskiet as die derde beste skool in die land.
Die hart by CBK is om skuts van Jesus se liefde te leer, sodat hulle elkeen ‘n “Centurion van God” kan word. Zwarrie-boogskiet is ‘n bediening vir Christus waar elke kind ‘n geleentheid gebied word om dié talent te ontwikkel.
Vir meer inligting in verband met Zwarrie-boogskiet, e-pos gerus vir Emsie Swanepoel by emsie@centurionboogskiet.club. Alternatiewelik kan ‘n e-pos aan me. Lindry Hanekom (organiseerdeer) by hanekom.l@zwarries.co.za gestuur word.