Gedragskode

AANHEF

As ouers, personeel en leerlinge van Hoërskool Zwartkop is dit ons missie om aan elke leerling die geleentheid te bied om in ‘n rustige, gestruktureerde en gelukkige milieu, kwaliteit onderrig te ontvang, sodat leerlinge by hul skoolverlating ten volle- en sinvol voorbereid is op die volwasse wêreld wat betree word.

Binne ‘n raamwerk waar orde sal heers en gesag gerespekteer word, ervaar die jeug ‘n gevoel van geborgenheid en veiligheid. By Hoërskool Zwartkop, waar beide opvoeder én leerling hulle verbind tot die bevordering van ‘n positiewe leeromgewing en die aanleer en toepas van selfdissipline, bied ons hierdie beskerming aan opvoerder én leerling.

Die klem by die daarstelling van beide die gedragskode én die dissiplinêre beleid, val op die vestiging van ‘n regverdige atmosfeer, waar opvoeders en leerlinge hul kan beroep op konsekwensie en opvoedkundig verantwoordbare gedragswyses.

Die samestelling van die gedragskode is gebaseer op die gepubliseerde Suid-Afrikaanse Skolewet wat deur die regering aanvaar is.

DIE GEDRAGSKODE

Die ondergetekening van hierdie dokument verbind alle partye tot die beskerming van regte van opvoeders en leerlinge, asook die daarstelling van wedersydse respek tussen opvoeders, ouers en leerlinge, waarin samewerking en vertroue tussen alle partye sal seëvier tydens die leerproses.

As leerling van Hoërskool Zwartkop:

  • is ek ten volle toegewyd aan die ontwikkeling van my volle potensiaal, asook die van ander, hetsy leerlinge, opvoeders of die breër samelewing;
  • erken ek die reg om onderrig te gee en te ontvang, sonder enige teen-produktiewe inmenging;
  • distansieer ek myself ten volle van alle vorms van vandalisme, geweld en ander soortgelyke onaanvaarbare gedragswyses in my skool;
  • aanvaar ek my verantwoordelikheid om ander toe te laat om ongestoord hul werk te kan verrig.

 

Verder onderneem ek, as leerling om:

  • my skool en skooleiendom, asook die van ander, te respekteer en te beskerm;
  • my te bepaal by algemeen aanvaarbare skooldissipline en die toepassing van korrektiewe maatreëls, en dit te ondersteun en te onderskryf;
  • stiptelikheid na te streef;
  • die voorgeskrewe voorkomsreëls na te kom;
  • respekwaardig op te tree in my handel en wandel met leerlinge en opvoeders;
  • tuiswerk, klaswerk, toetse, eksamens en ander akademiese take te voltooi;
  • te help, waar ek kan, met die instandhouding en / of vernuwing van my skool.

 

Ek beloof om NIE:

  • my skuldig te maak aan enige vorm van intimidasie en / of viktimisasie van leerlinge of opvoeders nie;
  • dwelms of alkohol te gebruik of te versprei tydens skoolure of ‘n skoolaktiwiteit nie;
  • tydens skoolure, skoolaktiwiteite of in skooldrag te rook nie;
  • sonder verskoning en / of toestemming die skoolterrein tydens skoolure te verlaat, of afwesig uit klasse te wees nie;
  • die veiligheid of lewens van leerlinge of opvoeders op enige wyse te bedreig nie.

 

Bo alles, verbind ek my tot die nakom van die skoolreëls en die bevordering van die skool se beeld deurdat my optree, gedrag en skoolwerk van so ‘n gehalte sal wees, dat dit die goeie naam van Hoërskool Zwartkop tot eer sal strek.

Matriek 2023 Onderskeidings

Leerdertal 2024

Zwartkop Personeel 2024