
skooldragreëls
VOORKOMS
Zwarries se voorkoms is ʼn saak van erns. Ons is daarop ingestel dat ons Zwarries ’n trotse beeld moet projekteer. ’n Kind se voorkoms is ’n verlengstuk van dissipline en trots in die ouerhuis. Net soos wat daar in ’n kind se persoonsmondering belê word om sekere karaktereienskappe te vestig, is voorkoms ook ’n opvoedingstaak. Hoe ’n mens lyk, is ook ’n voortsetting van jou karakter.
Na ’n skoolvakansie moet leerders se voorkoms op dag een van die nuwe kwartaal reeds 100% aan die voorkomsreëls voldoen. Indien dit nie die geval is nie, sal die betrokke leerders se ouers geskakel word om hulle te kom haal om hul voorkoms volgens die skoolreëls te kry.
SKOOLUNIFORM
Zwarries is trots op hul skooluniform. Daarom trek ons die uniform graag aan en pronk daarmee as netjiese en trotse Zwarries. Die skooluniform is onder andere verpligtend by die onderstaande geleenthede:
- Sportgeleenthede tuis en by ander skole
- Meriete-aande
- Oueraande
- Kerkdienste van die skool
- Op enige tydstip wat die skool besoek word gedurende eksamentyd, al skryf die leerder nie ’n vak nie
- Vakkeuse-inligtingsaande
- Graad 8 – 12 inligtingsaande
- Per geleentheid soos met leerders gereël
SKOOLBAADJIE
Die Hoërskool Zwartkop skoolbaadjie is verpligtend as deel van die formele uniform. Slegs die voorgeskrewe skoolbaadjie mag gedra word en hierdie baadjies is by die skoolleweransiers beskikbaar. Leerders moet hul skoolbaadjies elke Maandag dra. Die Gr. 8 leerders mag hul skoolbaadjies eers na die inburgeringseremonie dra as hulle volwaardige Zwarries is. Slegs balkies van amptelike skoolaktiwiteite mag aan die lapèl van die skoolbaadjie gedra word, bv. Leerderraad, Akademie, ens.
WINTERBAADJIE
Die Hoërskool Zwartkop Winterbaadjie is nie ʼn verpligte deel van die skooluniform nie. Hierdie baadjie is addisioneel tot die skooluniform en bedoel vir die kouer tye van die jaar en kan slegs saam met die wintersdrag gedra word. In die wintersport seisoen kan hierdie baadjie ook op Saterdae gedra word. Die winterbaadjie mag nie by formele skoolfunksies in die plek van die skoolbaadjie gedra word nie en mag ook nie saam met somersdrag gedra word nie. Geen skoolsweetpakbaadjies mag saam met die formele skooluniform gedra word nie.
FORMELE DRAG
Formele drag word gedra by alle geleenthede waar leerders die skool verteenwoordig of as ’n groep funksies bywoon. Die skoolbaadjie en das is verpligtend vir almal en dogters dra ʼn skoolromp en lang kouse en seuns ʼn langbroek. Dogters mag slegs die toelaatbare juweliersware dra en leerders mag geen ander juweliersware of reklamebandjies dra nie.
DAS
Die das mag saam met somersdrag gedra word en is wel verpligtend wanneer die skoolbaadjie gedra word. Dasse moet netjies geknoop wees en mag nie los hang nie. Die boonste knoop van die hemp moet vas wees. Die matrikulante het ʼn matriekdas wat heeljaar gedra word en is slegs by die skoolleweransiers beskikbaar.
“PULL OVER”/OORTREKTRUI
Die “pull over” is ʼn vervanging van die langmoutrui en mag saam met somers- en wintersdrag gedra word, met of sonder die skoolbaadjie. Die langmoutrui is uitgefaseer en word nie meer deur die leweransiers verkoop nie. Indien daar leerders is wat steeds ʼn langmoutrui het, mag dit slegs saam met die skoolbaadjie gedra word. Geen langmoutruie van ander skole mag gedra word nie. Die skoolsweetpak mag glad nie by skooldrag gedra word nie.
SERP
Slegs die voorgeskrewe skoolserp mag gedra word. Die matrieks het ʼn eie matriek-serp wat verskil van die ander leerders se ontwerp. Die serp word by die skool se finansiële kantoor gekoop en mag slegs saam met wintersdrag gedra word.
SPORTDRAG
Slegs die voorgeskrewe sportdrag wat by Wierdapark Uitrusters en die sportburo by die skool gekoop kan word, word toegelaat. Geen afwykings word toegelaat nie. Sportdrag word eers aangekoop as ʼn leerder gekies word as lid van ʼn sportspan.
DOGTERS:
HEMP
Somer: Voorgeskrewe ligblou kortmouhemp. Geen langmouhemp. Dasse is opsioneel saam met somersdrag vir alle leerders.
Winter: Voorgeskrewe ligblou langmouhemp. Hemp moet altyd ingesteek wees. T-hempies mag nie onder die skoolhemp gedra word indien dit by die nek of moue uitsteek of deurskyn nie.
Matrikulante dra wit hemde.
ROMP EN LANGBROEK
Donkerblou. Lengte in knielposisie mag maksimum 10cm bokant die grond wees. Rompe mag nie in die middel omgevou word en mag nie afgewerk word nie. Slegs die voorgeskrewe donkerblou langbroek waarvan die pype nie afgestik mag word nie, is toelaatbaar. Die broekspype se some mag nie losgetorring wees nie. Geen oortrektruie mag by die skoolromp of -langbroek ingesteek word nie.
SKOENE
Swart toeryg leerskoolskoene. Skoensole mag nie dikker as 8mm wees nie en daar mag geen gekleurde stiksel hoegenaamd op die skoen voorkom nie. Die tradisionele skoolskoen met bandjie word ook toegelaat.
KOUSE
Slegs voorgeskrewe donkerblou skoolkouse. Matriekdogters dra wit kouse in die somer. Kort kouse vir somersdrag moet een maal omgevou en nie opgerol nie. Voorgeskrewe lang, donkerblou kouse vir wintersdrag. Geen sykouse is toelaatbaar nie en geen kort kouse mag bo-oor of onder lang kouse gedra word nie. Blou skoolkouse moet by die langbroek gedra word.
HAARSTYLE
Hare moet netjies wees. Hare wat oor die kraag hang, moet vasgemaak of gesny word. Slegs donkerblou, rooi, wit of bruin rekkies/knippies/ kammetjies of donkerblou linte mag gebruik word om hare vas te maak. Boskasies, frats haarstyle, gespuite en gepluisde hare word nie toegelaat nie. Hare mag nie onnatuurlik gekleur word nie en hare mag ook nie meer as een kleurskakering hê nie. Gekleurde haarslierte is ontoelaatbaar. Die kuif mag nie aan die wenkbroue raak nie. Indien hare in nek vasgemaak word, mag rekke nie onder die hemp se kraagrand wees nie. Haarstyle wat sig belemmer, word nie toegelaat nie. Lang hare mag nie net met knippies bo gehou word nie. Kopbande en “alice bands” moet effekleurig wees en mag slegs donkerblou, rooi of wit wees. Dit mag ook nie blomme of ander groot versierings hê nie. Kopbande mag nie breër as 3cm wees nie en mag nie oor die voorkop gedra word nie.
ALGEMEEN – JUWELE EN NAELS
Geen hangertjies of armbande word toegelaat nie, uitgesonder mediese hangertjies/armbande. Een goue/silwer seëlring word toegelaat en mag slegs aan die ring- of middelvinger gedra word. Twee stelle pêrel/goue/silwer knoppie- of ringetjie tipe oorbelle word toegelaat – slegs in die onderste gaatjies in die lel van die oor. Geen oorbelle in die kraakbeen van die oor nie. Oorringetjies se deursnee mag nie groter as 8 mm/0,8 cm wees nie en geen knoppies met stene of patrone word toegelaat nie. Knoppies mag nie groter as 7mm/0,7 cm in deursnee wees nie. Dogters mag ook die oorbelle met die skool se logo op dra. Hierdie oorbelle kan by die finansiële kantoor betaal word en is by me. Morrison beskikbaar. Geen neusringe, neus “studs” of ander sigbare “piercings” word toegelaat nie. Geen sierhorlosies mag gedra word nie.
Naels moet kort en skoon wees. Geen naellak of grimering word toegelaat nie.
Geen sigbare tatoeëermerke word by die skooluniform of sportdrag toegelaat nie.
SEUNS:
HEMP
Somer: Voorgeskrewe ligblou kortmouhemp. Geen langmouhemp. Dasse is opsioneel saam met somersdrag vir alle leerders.
Winter: Voorgeskrewe ligblou langmouhemp. Hemp moet altyd ingesteek wees. T-hempies mag nie onder die skoolhemp gedra word indien dit by die nek of moue uitsteek of deurskyn nie.
Matrikulante dra wit hemde.
LANG/KORTBROEK
Somersdrag: Grys kort- of langbroek. Langbroeke se pype mag nie nou of losgetorring wees nie en langbroeke mag nie op die heupe hang nie.
Wintersdrag: Grys langbroek met voorgeskrewe kouse verpligtend.
Die dra van ’n swart of bruin gordel is verpligtend. Die gordel se gespe mag nie groter as die breedte van die gordel wees nie. Geen ornamentele gespes word toegelaat nie.
SKOENE
Swart toeryg leerskoolskoene waarvan die veters moet vas wees. Skoensole mag nie dikker as 8mm wees nie en daar mag geen gekleurde stiksel hoegenaamd op die skoen voorkom nie.
KOUSE
Slegs voorgeskrewe grys skoolkouse met strepies op die omslag. By langbroeke mag slegs grys/donker skoolkouse gedra word. (Geen wit kouse of prentjiekouse mag saam met skooldrag gedra word nie)
HAARSTYLE
Seuns se hare moet kort wees om die ore en mag nie oor die ore gekam word nie. Die hare moet skoon en netjies vertoon. Slegs tradisionele haarsnitte word toegelaat.
Geen “steps” word toegelaat nie.
Hare mag nie gekleur word nie. Aan die agterkant mag die hare nie aan die hemp se kraag raak nie. Verder moet die hare egalig geskeer wees. Die lengteverskil van hare mag nie ekstreem wees nie. Die aanvaarbare lengteverskil is 3cm. Boskasies word nie toegelaat nie. Bakkebaarde mag nie langer wees as gelyk met die middel van die oor nie. Die kuif mag nie aan die wenkbroue raak as dit vorentoe gekam word nie. Baarde en snorre is ontoelaatbaar. Geen haarrekke en knippies word toegelaat nie.
ALGEMEEN – JUWELE
Geen ringe, hangertjies, oorbelle of armbande word toegelaat nie (mediese hangertjies/armbande uitgesonder).
Geen ander kledingstukke behalwe amptelike skooldrag mag sigbaar gedra word nie.
Geen sigbare tatoeëermerke word by die skooluniform of sportdrag toegelaat nie.
GELEENTHEIDSDRAG
Geleentheidsdrag, wat bestaan uit die informele langmou of kortmou gholfhemp/sporthemp en ʼn denim, word by sekere toeskoueraktiwiteite en informele dae soos lentedag, asook op spesifieke dae soos deur die skoolhoof aangekondig, gedra. Die geleentheidsdrag moet lei tot netheid en eenvormigheid onder die leerders by bogenoemde geleenthede.
Die sporthemp kan slegs by Wierdapark Uitrusters gekoop word.
RIGLYNE VIR GELEENTHEIDSDRAG:
- Alle voorkomsreëls rakende grimering, juwele, haarstyle, snorre en baarde is steeds geldig op dae wat geleentheidsdrag gedra word.
- Indien ʼn T-hemp onder die hemp gedra word, mag dit nie sigbaar wees nie.
- Die sporthemp se moue mag nie opgerol wees nie en die kraag word ook nie opgeslaan nie.
- ʼn Vollengte, driekwart of knielengte donkerblou denimbroek word saam met die gholfhemp gedra. Die voorgeskrewe styl is ʼn netjiese, gemaklike denim. Geen “skinny jeans”, “baggy jeans” of “low rise” snitte word toegelaat nie. Die denim moet geen gate, skeure, rafels, borduursels, vlekke, bleikmerke of dergelike versierings hê nie.
- Indien ʼn gordel gedra word, mag die gespe nie groter as die gordel wees nie. Ornamentele gespes word nie toegelaat nie.
- Netjiese tekkies of skoene sal bogenoemde komplimenteer. Die skool se amptelike Zwarrie-plakkies of sandale is ook toelaatbaar.
- Indien ʼn leerder nie die korrekte drag het, hierdie drag wil dra nie, of onseker is, sal volle skooldrag die enigste alternatief wees.
- Indien dit koud is, mag die “pull over”, winterbaadjie of skoolsweetpakbaadjie saam met die geleentheidsdrag gedra word. Die skoolsweetpakbaadjie MAG nie ingesteek word nie.
- Leerders wat nie aan hierdie bepalings voldoen nie, sal huis toe gestuur word om volgens die bogenoemde riglyne te gaan aantrek. Hierdie leerder kan ook die reg verbeur om weer geleentheidsdrag te dra.
- ONTHOU! Geleentheidsdrag is ook deel van die skooluniform en die netheid van ons Zwarrie-leerders moet ten alle tye aandag geniet.
SKOOLDRAG: LEWERANSIERS
- Maretha’s Skool uitrusters
Clubviewsentrum, h/v Lytteltonweg & Adam Tas weg, Clubview
Tel: 012 660 1118
- Wierdapark Uitrusters
136 Willem Botha laan, Wierdapark
Tel: 012 654 9600