Die Zwarries lewe hulle leuse “Glo en Dien” op alle vlakke van die samelewing uit
‘n Immergewilde skool in Centurion het op 11 Januarie 2024 sy 40ste bestaansjaar gevier. Hoërskool Zwartkop het sedertdien van krag tot krag gegroei en in een van die steunpilare van die Centurion-gemeenskap ontwikkel. Uiteindelik is dit die familie gevoel en die kenmerkende Zwarrie-vibe wat Hoërskool Zwartkop so eiesoortig maak. Zwarries word geken daaraan dat hulle trots is op hul skool, tradisieryk is, graag deel van die suksesverhaal van hul skool is en getrou is aan hul leuse: Glo en Dien!
Die Zwarrie Missie
Die ontplooiing van elke individu se volle potensiaal deur ‘n voortreflike en doeltreffende skoolprogram.
Die Zwarrie Visie
Hoërskool Zwartkop is ‘n skool waar kinders volledig en optimaal toegerus word vir ‘n sinvolle en suksesvolle lewensbestaan.
Die Zwarrie Waardes
Integriteit, Respek vir mense, spanwerk, bestuursdoeltrefendheid en gemeenskapverantwoordelikheid
Voorwoord van die Hoof
Hoërskool Zwartkop is gebou op die ou oorspronklike plaas met die naam Zwartkop. Die skool het sy deure op 11 Januarie 1984 geopen met ‘n leerdertal van 298. Die skool is gebou met fasiliteite vir ‘n algemene- en tegno-akademiese studierigting. Vandag bestaan die skool uit ‘n leerdertal van nagenoeg 1 900 en ‘n personeelkorps van meer as 120.
Een van die uitstaande kenmerke van Zwarrieland is die besondere gevoel van samesyn – in die volksmond bekend as die Zwarrie-Vibe! Daar word geroem daarop dat Zwarrieleerders en –onnies gelukkig is.
Die spyskaart van aktiwiteite waaraan kinders kan deelneem in Zwarrieland is lank en wyd. Hoërskool Zwartkop roem daarop dat hulle afgeronde, goed gebalanseerde en gelukkige leerders aan die einde van matriek lanseer om suksesvolle lands- en wêreldburgers te word. Leerders in dié skool se uniekheid en individualiteit word erken en gerespekteer.
Die Zwarries lewe hulle leuse “Glo en Dien” op alle vlakke van die samelewing uit. Hulle pak alles met oortuiging aan en ondersteun mekaar ten volle. Hulle leef hulle roeping uit en laat die legende voortleef in alles wat hulle hulle ten doel stel.
In Hoërskool Zwartkop word wenners gekweek! Die skool is graag mede-skrywer van die suksesverhaal van kinders.
SKOOLHOOF
DR. D STRYDOM




