Uit die Hartklop-kantoor
‘n Onbekende skrywer het gesê dat die lewe ‘n geleentheid is om jou passie te gebruik om ‘n impak te maak. By die Hartklopkantoor het ons elke dag die voorreg om hierdie waar woorde te leef!
Die hoërskooljare is ‘n periode van groei, ontdekking en uitdagings. Die tienerjare word gekenmerk deur ‘n soektog na identiteit en ‘n behoefte om te behoort, wat dikwels lei tot ‘n ingewikkelde sosiale dinamiek. Tieners beleef ‘n warboel van emosies midde akademiese en sosiale druk eie aan dié fase. In hierdie milieu het die Hartklopkantoor die geleentheid en voorreg om ‘n positiewe verskil in leerders se lewe te maak. Ons poog om vroeë tekens van geestesgesondheidsprobleme te identifiseer en in ‘n multi-dissiplinêre span aan te spreek. Deur ‘n veilige en vertroulike omgewing te skep, moedig die Hartklopkantoor leerders aan om hul bekommernisse te verbaliseer sonder vrees vir oordeel. Ons handhaaf ook die ingesteldheid dat voorkoming altyd die beste benadering is en die Junior beraders speel ‘n groot rol in dié proses.
Die Junior beraders is die briljante breinkind van die sielkundige, me Marna Winter. Sedert 2001 lewer die leerders wat as Junior beraders optree ‘n diens van ondersteuning aan hul mede-Zwarries en ook aan die gemeenskap. Die Junior beraders getalle het saam met die skool gegroei van 8 Junior beraders in 2001 tot 68 in 2025. Daar is ten minste een berader in elke voogklas. Die leerders word met sorg gekies en maandeliks opgelei om sigbaar te wees en hul mede-Zwarries in ‘n vriendskapsverhouding te ondersteun en na hierdie kantoor te verwys vir verdere intervensie. Die Junior beraders word ook jaarliks by gemeenskapsdiens aktiwiteite betrek. In die beginjare het die Junior beraders, tydens ‘n uitreikgeleentheid, ‘n kinderhuis op Harley-Davidsons besoek – vandag ry die beraders, minder opwindend, maar in groter gemak, met ‘n Zwarrie-bus na die uitreike.
Die Hartklopkantoor rus leerders toe met vaardighede wat op hul individuele behoeftes toegespits is. Kognitiewe gedragsterapie, routerapie, studiemetodes, emosionele regulerings-terapie en groepsessies is van die dienste wat hierdie kantoor aan die skool se leerders bied.
Groepsessies skep die geleentheid om meer as een leerder met dieselfde behoefte in ‘n sessie te akkommodeer. Tydens die sessies word ‘n atmosfeer geskep waar leerders by mekaar leer en mekaar ondersteun. Routerapie en studiemetodes word met groot sukses in groepsverband hanteer.
Die Zwarries se geestesgesondheid is ons kantoor se kernbesigheid en daarom streef ons daarna om ‘n kultuur van insluiting en aanvaarding te skep. Die Hartklopkantoor beskou dit as ‘n voorreg om ‘n positiewe verskil te maak, een Zwarrie op ‘n slag!

Me. Tina Myburgh
Hoof van Geestesgesondheid
myburgh.t@zwarries.co.za

Me. Denise Louw
Sielkundige
louw.d@zwarries.co.za
Zwarrie Eko-Klub
Die Eko klub is ’n groep toegewyde leerlinge wat uitgaan om ’n verskil te maak in hul skool, in die lewens van ander en in hul gemeenskap. Die Eko-klub bestaan uit ongeveer 98 leerlinge en 4 onderwysers.
Hoogtepunte van 2025 sluit onder andere in:
- Ontvang WESSA Goue toekenning.
- Neem aan Gauteng Aqualibrium kompetisie deel.
- Samel 990kg plastiek doppies in.
- Ons kon ‘n rystoel vir Maketsa Malapile ‘n skoolleerder by Nuwe Hoop Skool skenk. Met die geld wat ons ontvang het van al die doppies wat herwin is.
- Verkoop voëltjie voerders en fondse is oorbetaal aan die Birdlife S.A. witvlerkvleikuiken projek.
- Wêreld omgewingsdag word gevier saam plaaslike laerskole wat inskryf vir inkleurkompetisie.
- Vier verskeie wêreld omgewingsdae.
Hoërskool Zwartkop ontvang gesogte Groenvlagstatus
Drie jaar gelede het ons Eko-klub, met 12 leerlinge ‘n onbekende, maar opwindende nuwe Zwarrie-omgewingsreis as deelnemende skool in die WESSA (Wild Life and Environmental Society of South Africa) gerugsteunde Eco-Schools program aangepak. Die brandstof wat ons aangedryf het en steeds aandryf is ‘omgee’, want ons gee om vir ons skool, vir mekaar, vir ons gemeenskap en vir ons omgewing.
Tydens 2021 se Eko-skole stigtingsjaar, fokus ons hooftema rondom habitat vernietiging, wat ons onder andere aanspoor om inheemse tuinbou praktyke by Zwarrie-land te bevorder, terwyl ons hande vat met BirdLifeSA om geld in te samel vir die bewaring van die bedreigde Witvlerk vleikuiken.
Met die aanbreek van 2022, pak ons met 24 leerlinge ongelooflike projekte aan, soos die publikasie van ‘n Zwarrie voëlgids; identifisering en merk van bome op die skool terrein; die ontwikkeling van die Zwarrie boom wedloop; die kweek en aanplant van inheemse plante; en vele meer.
As ons terugkyk na ons derde jaar, sien ons in 2023 ‘n jaar waar ons Eko-klub groei tot 98 leerlinge. Twee van ons leerlinge word aangewys as nasionale kategorie wenners in die internasionale Youth Reporter for the Environment (YRE) kompetisie, terwyl ons nie minder nie as 700 inheemse plante kweek. Ons stig ‘n botaniese tuin, neem deel aan verskeie skoonmaak aksies, raak betrokke by ons skool en ons gemeenskap en koester vele ander hoogtepunte.
Die Eko-klub ontvang oorweldigende steun van die skool se leierskapspan, onderwysers, ouers en leerlinge. Teen hierdie agtergrond word Hoërskool Zwartkop in 2024 ‘n ontvanger van die gesogde Groenvlag-toekenning, tydens die WESSA toekennings seremonie op die 6de Maart 2024 by die Walter Sisulu Botaniese Tuin.
Die Eko-skole groenvlag is is ‘n internasionale toekenning wat in 73 lande deur FEE (Foundation for Environmental Education) ge-akrediteerde organisasies uitgereik word as erkenning vir uitsonderlike toewyding tot omgewingsvolhoubaarheid en onderwys. Eko-skole ondersteun ons om ons leerlinge te lei om persoonlik te groei, en om van hulle skool, plaaslike gemeenskap en die wêreld waarmee hulle in kontak kom, ‘n beter plek te maak.
Die Zwarries se omgewingsreis, word gemeet teenoor die sewe stappe van “Eco-Schools”, die eko-skooltemas, die VN( Verenigde Nasies) Volhoubare doelwitte en uiteindelik die Zwarries se Eko-kode.
Sluit aan by die Eko-klub:
Gratis aansluiting en deelname
(behalwe wanneer ons op uitstappies gaan)
Ingeskryfde leerling by die Zwarries (Graad 8 – 12 )
Alle inligting kan gekry word op ons Whatsapp groep en elkeen wat lid word, kry toegang tot ons Google Classroom waar al die foto’s en inligting weekliks deur gegee word.
Wanneer vergader ons:
Elke Woensdagmiddag direk na skool tot ongeveer 15:00 in K27.
Uitstappies, skoonmaak-askies ens word beplan volgens die gemeenskap, gebeurtenisse op die omgewingskalender en skool aktiwiteite – dit vind gewoonlik op Naweke plaas, datums en tye sal vroegtydig aan leerlinge deurgegee word.
Verdere inligting by:
Ms. LOUISA STROEBEL
Organiseerder van die Eko-klub stroebel.l@zwarries.co.za