LEWENSORIËNTERING (LO)

WAT IS LEWENSORIËNTERING?
Volgens die KAV dokument is Lewensoriëntering die studie van die self in verhouding tot andere en tot die samelewing. Hierde vak behandel die vaardighede, kennis en waardes oor die self, die omgewing, verantwoordelike burgerskap, ‘n gesonde en produktiewe lewe, sosiale betrokkenheid, ontspannings- en fisiese aktiwiteite, loopbane en loopbaankeuses. Dit sluit geleenthede in om betrokke te raak by die ontwikkeling en praktyke van ‘n verskeidenheid lewensvaardighede om probleme op te los, om ingeligte besluite en keuses te maak en om gepaste aksies te neem om betekenisvol en suksesvol in ‘n snelveranderende samelewing te leef. Dit fokus nie net op kennis nie, maar dit beklemtoon ook die belangrikheid van die toepassing van vaardighede en waardes in werklike lewensituasies, deelname aan fisiese aktiwiteite, en inisiatiewe.
Lewensoriëntering is een van die vier fundamentele vakke. Dit beteken dat dit verpligtend is vir alle leerders in graad 8 tot 12. Dit is ‘n unieke vak wat ‘n holistiese benadering toepas ten opsigte van die persoonlike, maatskaplike, intellektuele, emosionele, geestelike, motoriese en fisiese groei en ontwikkeling van die leerders. Dit moedig die ontwikkeling van ‘n gebalanseerde en selfversekerde leerder aan wat ‘n bydrae kan maak tot ‘n regverdige en demokratiese samelewing, ‘n produktiewe ekonomie en verbeterde lewensgehalte vir almal.

ONDERWERPE
Die vak bestaan uit die volgende vyf onderwerpe in graad 7 tot 9:
1) Selfontwikkeling in die samelewing
2) Gesondheids-, sosiale- en omgewingsverantwoordelikheid
3) Grondwetlike regte en verantwoordelikhede
4) Liggaamsopvoeding
5) Wêreld van werk

Die vak bestaan uit die volgende ses onderwerpe in graad 10 tot 12:
1) Selfontwikkeling in die samelewing
2) Sosiale en omgewingsverantwoordelikheid
3) Demokrasie en menseregte
4) Loopbaan en loopbaankeuses
5) Studievaardighede
6) Liggaamsopvoeding

Matriek 2023 Onderskeidings

Leerdertal 2024

Zwartkop Personeel 2024